TEKS VIR DIE DAG
Ek sal vir julle 'n nuwe hart gee, 'n nuwe gees sal Ek in julle binneste gee; Ek sal die hart van klip uit julle liggame verwyder en vir julle 'n hart van vlees gee.”
Esegiël 36:26

GEDAGTES OOR HERVERBIND
In vakansie- en feestye raak ons dikwels dieper bewus van die dinge wat waarlik vir ons van waarde is. Daarmee saam is daar ‘n besonderse ‘’nuutheid’’ wat ‘n nuwe  jaar  bied; die moontlikheid van verandering.

 Wat is die belangrikste verhoudings en prioriteite in jou lewe?

 God verlang om in diep verhouding met ons te wees; ons is daarvoor geskep! Ons word ten volle lewendig wanneer ons in harmonie met God lewe en op avontuur saam met Hom is. Ons harte brand wanneer ons beleef hoe die Gees in en deur ons werk, en in hierdie oomblikke weet ons wat liefde en vrede waarlik is.

 Om saam met God op reis te wees, beteken om deur Christus gevorm te word in Sy beeld, en nader aan die beste weergawe van jouself ook!

 Die begin van die jaar is ‘n goeie tyd om te besluit waaraan jy jouself wil verbind. Sodra die jaar op dreef is, en ons nie reeds bewustelik ons verbintenisse maak nie, sal die hardste stemme daar buite namens ons besluit.

 God nooi ons na keer op keer terugkeer, en keer op keer ‘n groter avontuur.

GESPREK MET GOD
Skryf ‘n eenvoudige kort gebed neer waarin jy jou hartsbehoefte en -begeerte rondom ‘herverbind’ met God deel.

‘N GEDAGTE OM TE OORWEEG

“Jesus Christ became Incarnate for one purpose, to make a way back to God that man might stand before Him as He was created to do, the friend and lover of God Himself.”
- Oswald Chambers