TEKS VIR DIE DAG

“Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.”
- Jesaja 41:10


GESPREK MET GOD OOR DIE WEEK
*Dit help om dele van hierdie gebed in jou joernaal neer te skryf.

1. Haal ’n paar keer diep asem om rustig te raak en word bewus van God se liefdevolle teenwoordigheid.
2. Vra vir God vir leiding in hierdie gebed en nadenke.
3. Begin terugdink aan jou week. Wat het alles gebeur? Dink terug sonder enige oordeel, asof jy ’n rolprent van jou lewe die afgelope week sien afspeel, met God aan jou sy. Neem net waar en onthou. Waar was die grootste emosie of gebeurtenisse?
4. Identifiseer gebeurtenisse wat vir jou lewe gegee het, of waar jy dieper bewus was van God se teenwoordigheid en goedheid. Dink ook aan die volgende: Waar was jy ten volle teenwoordig en die beste weergawe van jouself? Waar/wanneer/deur wie is God se liefde en hoop aan jou gewys? Dank God vir elk van hierdie geskenke.
5. Identifiseer nou gebeurtenisse waar jy moontlik nie op jou beste was nie, waar jy weggedraai het van wat goed of liefdevol was. Vra vir God vir bystand. Waar is jou skadumotiewe of -karakter ontbloot? Waar is daar struwelinge in jou binneste? Waar was daar ontwrigting? Gee dit als oor aan God.
6. Gesels nou met God oor wat jy hierdie week in jou Rus- en Herstelrefleksies en gebed beleef het. Wat is God besig om aan jou te openbaar of jou aan te herinner?
7. Kyk nou vorentoe en gesels met God oor wat jy nodig het vir vandag en die naweek.


‘N GEDAGTE OM TE OORWEEG
“We ought not to be weary of doing little things for the love of God, who regards not the greatness of the work, but the love with which it is performed.”
- Brother Lawrence